Waterskaarste

From Wikimania
This page is a translated version of the page Water shortage and the translation is 81% complete.
Outdated translations are marked like this.
'n Plakkaat uitgereik deur die Wes-Kaapse regering maan inwoners om water spaarsamig te gebruik.

Die afgelope jaar gaan Kaapstad gebuk onder droogte en waternood. Hierdie blad sal jou op die hoogte hou hoe Wikimania daardeur geraak word.

Kortom - Volgens die Stad Kaapstad sal die sogenaamde "Dag Zero" nie in 2018 aanbreek nie. Die waternood raak Wikimania maar gering. Die organiseerders van Wikimania 2018 bly in noue kontak met die konferensielokaal, hotel en reisburo's tot verdere kennisgewing. (Bygewerk op 3 Mei 2018).

Hierdie blad sal gereeld bygewerk word.

Tru-osmose-aanlegte is in aanbou en sal later aan die hoofwaterpypleiding gekoppel word. Lees ook Stad Kaapstad: Waterpaneel. Die Stad Kaapstad het aangekondig die goeie reënval het die gesamentlike damvlakke tot 43% laat styg. "Dag Zero" sal dus nie in 2018 of 2019 plaasvind nie.[1] (Bygewerk op 29 Junie 2018)

Aanloop

Oor die afgelope drie jaar was daar weinig reënval in die Kaapse opvanggebiede (vir die opgaardamme). Kaapstad het viermiljoen inwoners - gevolglik het die waterbronne gou uitgeput begin raak.

In Januarie 2018 het damvlakke 26,5% bereik. Sodra die gevreesde 13,5% bereik word, is die grootste deel van die stad voortaan sonder water. Die Kapenaars het die oproep ernstig opgeneem. "Dag Zero" sou aanvanklik op 16 April 2018 aanbreek[2], maar is toe 10 weke later aangeskuif, na 9 Julie 2018.[3] Wikimania word nou juis in die middel van Juliemaand aangebied, tydens die winterreënvaltyd. Teen daardie tyd is die droogte miskien oor, miskien nie. Op 12 April 2018 is "Dag Zero" êrens in 2019 of later in die vooruitsig gestel.[4] Winterreënbuie in 2018 het die waterstand tot so 'n mate verhoog dat "Dag Zero" nie meer in 2019 sal plaasvind nie.[5]

Noodplan van die konferensielokaal en hotel

Volgens die bogenoemde instansies sal die toeristeoorde nie geraak word nie. Daarvoor het hulle reeds voorsorg getref.

Die Tsogo Sun Hotelgroep het 'n waterbewarings- en stoorplan in plek, vir die verkryging van water uit ander oorde, en grawe ook waterputte op hul persele. Die Stad Kaapstad het die publiek gerusgestel: die sentrale sakekern (SSK) van Kaapstad (waar die hotel geleë is), sal nie deur "Dag Zero" geraak word nie. Hul water sal nie afgesluit word nie; op daardie dag sal die SSK ook van ontsoute water vanaf 'n aanleg naby die hawe voorsien word.

Die besoekers moet nou paraat bly; noulettend op hul eie waterverbruik.

Die Stad Kaapstad se verordening

Tot en met "Dag Zero" moet die inwoners spaarsamig met water probeer omgaan: 50 liter per persoon per dag.[2] Ná "Dag Zero" sal Kapenaars by een uit meer as tweehonderd waterpunte hul waterrantsoen (25 liter per persoon per dag) kan gaan ophaal. Sekuriteitsbeamptes sal daar die orde handhaaf.

Die Stadsraad het reeds boorgate in twee ondergrondse waterlope gesink en drie ontsoutingsaanlegte is in aanbou.

Wat jou te doen staan

Enkele waterbesparingstegnieke:

  • Stort vir twee minute lank. Hoe korter, hoe beter! (Oefen solank tuis!)
  • Sodra jy eers nat is, draai die krane toe, seep in, spoel vinnig af, draai geleidelik die krane weer toe, klim uit en droog af.
  • Probeer waar moontlik die toilet slegs eenmaal per dag spoel - elke spoel verbruik 12 liter water.
  • Maak die kraan toe wanneer jy tande borsel.
  • Moenie elke dag skoon beddegoed en handdoeke verlang nie (die wassery verbruik ontsettend baie water!)
  • Raak op 19 Julie betrokke by die Watervolhoubaarheidsprogram. Vir nadere besonderhede kontak Rossouw of lees die Wikimaniaprogramblad rondom hierdie datum.

Onthou: Jan Alleman stort ("net gou vinnig") met 50 liter water. Die Stadsraad het op 1 Februarie 2018 die perke gestel: 50 liter per persoon per dag. Daar is wel mense wat met 30 liter per dag klaarkom. Wees een van hulle!

Lees ook

Eksterne skakels

Amptelike stand van die droogte

Nie-amptelike (dog behulpsame?) voorstelle

Verwysings

  1. MYBURGH, JANINE (29 June 2018). "Chamber delighted by Day-Zero’s death". Cape Messenger. 
  2. 2.0 2.1 Day Zero in The Guardian, 2 February 2018.
  3. Cape Town Pushes Back ‘Day Zero’ as Residents Conserve Water in The New York Times, 20 February 2018.
  4. Yates, Adam (12 April 2018). "Whatever happened to Day Zero?". Daily Maverick. 
  5. MYBURGH, JANINE (29 June 2018). "Chamber delighted by Day-Zero’s death". Cape Messenger.